Monday, May 27, 2019

Die New Age Beweging en die Kerk


Wanneer ek in sommige kerke instap, is dit asof ek ’n leë dop betree wat gevul is met die besmette kloue van kwelgeeste. Die kerk as instansie verkeer in ’n goddelose toestand. ’n Toestand waar Mammon sy valsheid in mense se koppe uitstort en hulle onder die illusie laat verkeer dat jy met jou dubbelkajuit-voertuig, jou klomp vakansiehuise en jou luukse oorsese reise jou weg na die hemel toe baan. Deesdae is nederigheid ’n vloekwoord. Arrogansie vier hoogty en die hoogmoed wat daarmee gepaard gaan is ’n baie duidelike aanduiding dat Jesus Christus nie meer welkom is in die midde van sekere gelowiges nie.
Ek weet nie watter Bybel baie kerke deesdae bestudeer nie, maar in die Bybel wat ek bestudeer lees ek van Jesus Christus wat gesê het dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart, jou hele verstand en al jou kragte. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek lees ook dat Jesus op konstante wyse ’n sterk weersin gehad het in hoogmoed, arrogansie en algemene egoïsme. Die feit dat Jesus gesê het dat indien die tempel afgebreek sou word, Hy dit binne drie dae sal opbou, is juis ’n bewys van die volmaakte begrip van nederigheid wat vanuit Hom straal. Die skrifgeleerdes met hulle hoogmoedige houdings en waansinnige navolging van Kabballistiese okkultisme was vas oortuig dat die tempel wat deur mense se handewerk opgerig is, as ’n bastion van volmaaktheid en absoluutheid dien. Hoe idioties om die menslike subjektiewe persepsie te wil verabsoluteer! Jesus Christus het op metaforiese wyse verwys na die opbou van die tempel binne drie dae deur middel van ’n geestelike waarheid wat deur middel van sy kruisdood en opstanding realiseer. Jesus het die gebruiklike ingesteldheid van die mens dat leiers groot sterk bombastiese egoïste moet wees, tot niet verklaar en juis bewys dat die ware leiersfiguur iemand is wat instaan vir ander deur homself te verneder en die juk van hulle laste op hom neem.
Christus is dus die lewende voorbeeld – die absolute voorbeeld – van die wyse waarop Christenskap weg van die self beweeg na ander. Die problematiek waarmee baie kerke worstel is dat hul ’n voorspoedsteologie verkondig waarvolgens die individu op hom- of haarself fokus en sodoende word die mens die vokale punt waarvolgens enige daaropvolgende funksionaliteit bepaal word. Christus beweeg weg van die self en handel in nederigheid teenoor ander deur middel van naasteliefde en die volmaakte liefde van die Drie-Enige God. Jesus is God wat mens geword het en tussen ons kom woon het. Op grond hiervan word God die Vader se nederigheid geïllustreer en is dit ’n bewys dat Hy, nadat die mens Hom vir hoeveel eeue al uittart en beledig, steeds Homself met die welstand van die mensdom bemoei. As dit nie oor die algemeen ’n illustrasie is van sy volmaakte begrip van liefde nie, weet ek nie...
Die nederigheid van die Heilige Gees word geïllustreer aan hand van die wyse waarop die Gees onder ons woon nadat Jesus Christus opgevaar het hemel toe. Dit bewys dat God deur die Gees tussen ons woon ten spyte van die feit dat ons telkemale in sonde verval en ons harte verhard.
Die moderne/postmoderne kerk se probleem is die feit dat die Heilige Gees belaster word en sodoende verban word. Gevolglik word die Heilige Gees met die valse heilige gees (die Kundalini-Gees) vervang en word hierdie valse gees as die Ware Gees aangehang in baie kerke. Een van die talle wyses waarop dit geskied is die feit dat die law of attraction in heelwat kerke verkondig word. Hiervolgens trek ’n mens “goeie karma” na jouself aan deur goed te doen. Die primêre probleem is nie noodwendig die begrip van “karma” waarvolgens Christenskap met esoteriese Oosterse praktyke vermeng word nie, maar wel die feit dat die mens sentraal gestel word en nie God Drie-Enig nie. Enige teologiese oortuiging waar God Drie-Enig nie sentraal gestel word nie, is ’n valse teologie en is onder invloed van die New Age beweging. Helena Blavatsky kan beskou word as die sentrale figuur op wie se geskrifte die grondbeginsels van die New Age gebasseer word. Daarmee saam vertolk Aleister Crowley ook ’n belangrike rol. Blavatsky loods in haar The Secret Doctrine hewige kritiek teen die Christelike geloof se neiging om iets “in te perk”. Volgens haar perk Christene verskeie geestelike konsepte in en lei dit tot ’n algemene ingesteldheid van naïewiteit en daarom sal Christene nooit, volgens haar, die kern van “wysheid” kan bereik of begryp nie.
Blavatsky se The Secret Doctrine sinspeel van die begin af op die idee van die kosmiese eier wat in werklikheid niks anders is as die planeet Saturnus nie. Gevolglik vertolk hierdie aanbidding en verabsolutering van Saturnus ’n sentrale rol in die filosofie van ander kultusgroepe en geheime organisasies soos onder andere Fraternitas Saturni, Vrymesselary en algemene Sonaanbidding. Die groot ironie is dat Blavatsky, ten spyte van haar weersin aan die neiging om iets in te perk, haar leerstellings self inperk tot die essensie van die kosmiese eier, oftewel Saturnus.
Die okkultisme het ’n obsessie daarmee om hierdie kosmiese eier te laat oopbars sodat absolute wysheid en bemeestering van die self (illuminasie) bereik kan word. Dit vorm ’n direkte verband met die neiging van sommige moderne/postmoderne kerke om die mens sentraal te laat staan in plaas van om God Drie-Enig sentraal te laat staan. Op hierdie wyse infiltreer die New Age beweging die kerk op verskeie wyses en word die kerk vervorm tot ’n plek waar die Drie-Enige God nie meer welkom is nie en waar dit vir die mens oor homself gaan.

----------------------
(c) T. Fourie

No comments:

Post a Comment