Wednesday, May 29, 2019

Hegel se Dialektiek in Suid-Afrika


Polarisasie was nog altyd een van die Illuminati se gunsteling tegnieke gewees waarmee hulle mense manipuleer en breinspoel. As enige iemand dink dat die Illuminati net werksaam is in die VSA, Engeland, Europese Unie en Israel, maak hulle ’n fout. Die Illuminati is al vir baie dekades lank werksaam in Suid-Afrika. Hulle hou Suid-Afrika al baie lank in ’n spreekwoordelike wurggreep deur hulle pionne in die koninklike gesin van Engeland te gebruik. Engeland is aan die stuur van sake in Suid-Afrika. Die regerende party en hulle radikaal-denkende maatjies wat rooi berets dra is klei in die hande van die Britse bordeel. Ja, ek noem dit ’n bordeel, want dit is nie die naam “koningshuis” werd nie.
My teorie is dat Engeland baie lank gelede al wraak begin neem het onder andere as gevolg van die hewige verliese wat hulle destyds in die Eerste en Tweede Anglo-Boereoorloë gely het. Ja, hulle het nou wel die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gewen, maar teen ’n groot prys – Britse soldate was behoorlik deur die boere afgemaai. Engeland en hulle groot skoothondjie, die VSA, haat blanke Afrikaanssprekendes. Dit is juis waarom die intelligensiediens van Amerika destyds die sluipmoord op Hendrik Verwoerd laat uitvoer het, want hulle was bang dat die Afrikaner deur middel van Verwoerd se federale model te ver op ekonomiese gebied sou ontwikkel. Die media werk saam met die Britte en die VSA: kyk byvoorbeeld hoe onbetroubaar Suid-Afrikaanse media is wanneer dit by internasionale nuus kom. Hulle praat soos ’n klomp breinlose bobbejane agter CNN en BBC aan en bevraagteken niks. Hulle klou vas aan 1962 se Koue Oorlog-propaganda en kon nog nooit ’n realistiese en ware verslag gee van wat in die internasionale arena aan die gang is nie. As ’n mens jou navorsing oor geheime organisasies doen en jy sien wie in werklikheid aan die stuur van sake is by NASPERS en Media24, behoort dit jou glad nie te verbaas dat hulle so onbetroubaar is wanneer dit by beriggewing kom nie. Verder is dit ook lagwekkend om te sien hoe mense soos Leopold Scholtz, Charles Smith en andere as “kenners” op hul gebied beskou word. As jy ooit ’n halwe waarheid in hulle rubrieke raaklees, moet jy weet dit is ’n spelfout.
Die Koninklike bordeel van Engeland lag in hulle mou oor wat in Suid-Afrika aangaan. Hulle gebruik al vir baie dekades die konsep van polarisasie deur gebruik te maak van die dialektiek van die Duitse filosoof Georg Hegel. Hegel se dialektiek is van uitgangspunt dat die wêreld verdeel word in tesis en anti-tesis en dat die twee versoen moet word met die doel om ’n sintese te vorm. Ons het dit destyds gesien met die politieke oorname in 1994 waar die ANC en die IVP teen mekaar baklei het. Die ANC was ’n tesis, die IVP ’n anti-tesis en nadat die Illuminati se groot bedrieër genaamd Henry Kissinger na Suid-Afrika toe gekom het en almal ’n spreekwoordelike gat in die kop gepraat het, word daar skielik “vrede” bewerkstellig en word die sintese gevorm – die kamtige reënboognasie. Die vrede wat op daardie wyse bewerkstellig is, is onbetroubaar om die minste te sê, want dit is nie die volmaakte vrede wat deur Jesus Christus bewerkstellig word nie. Geen vrede wat deur mense bewerkstellig word, kan vertrou word nie.
Op die oomblik gebruik die Illuminati deur middel van die Britse bordeel die Hegeliaanse dialek in Suid-Afrika deur die ou rassehaat te laat opvlam. Aan die een kant het jy die tesis in die vorm van die verregse Afrikaners wat naïef genoeg is om te dink dat die Israelvisie die waarheid beet het. Aan die anderkant het jy die anti-tesis in die vorm van radikale Afrika-Nasionalisme in die vorm van ’n spul narre met rooi berets wat daarop uit is om geweld teen minderhede aan te blaas en te probeer regverdig. Kom ons kyk nou na elkeen van hierdie twee:

     1.  Die Israelvisie: hierdie lagwekkende beweging het sy ontstaan te danke aan die Britte en die Jode. Gaan doen gerus jou eie navorsing hieroor en jy sal sien dat die Israelvisie ’n Brits-Israeli beweging is wat baie sterk in Engeland ontwikkel het en later oorgespoel het na Suid-Afrika toe. Daar is hordes probleme met die Israelvisie, maar een van hulle groot probleme is dat hulle Jesus Christus belaster deur Hom te ontken en vir mense te vertel dat Hy ’n “paganistiese god” is. Enige volgeling van Christus behoort te weet dat Hy duidelik gesê het dat Hy “die weg, die waarheid en die lewe is” en dat niemand na die Vader kan gaan behalwe deur Hom nie. Die Israelvisie wil vir Jesus uit die prentjie gooi en slegs fokus op God die Vader en die Heilige Gees. Die Drie-Eenheid is drie-in-een en jy kan nie aan die Drie-Eenheid gaan skaaf en kap soos jy wil nie. ’n Verdere opvallende probleem van die Israelvisie is dat hulle by monde van pseudo-intellektueles soos die Boerseun van Migdol (Japie van Zyl) vir Siener van Rensburg verafgod. Daar is geen fout daarmee om Siener vir interessantheid te lees en na te vors nie, maar na aanleiding van sekere uitsprake wat die Israelvisie maak, klink dit asof hulle vir Siener as een of ander god beskou. Dan is daar ook die probleem van simboliek: die Israelvisie maak gebruik van die sogenaamde Ster van Dawid en vertoon dit soms in die agtergrond terwyl hulle op ’n video praat. Daardie simbool behoort op sigself al ’n hele klomp sirenes in ’n mens se kop te laat loei, want die Ster van Dawid met die ses punte wat ook genoem word die heksagram is een van die oudste okkultiese tekens in die geskiedenis van die mensdom. Die teken se regte naam is Ster van Molog en word onder andere ook die Seël van Saturnus genoem. Dit is dus gekoppel aan vrugbaarheidsrituele binne ou okkultiese tradisies en het niks met die Bybel en geloof in God te make nie. Ironies genoeg is die Israelvisie lief daarvoor om diegene wat hulle teengaan uit te skel as “baalpriesters”. Baal was ’n vrugbaarheidsgod. Maar die Israelvisie vertoon die heksagram (Seël van Saturnus) wat self ’n simbool is wat eer aan vrugbaarheidsgode betoon.

      2. Die radikale Afrika-Nasionalisme: aan die anderkant het ons die radikale Afrika-Nasionalisme wat dreig met onwettige grondgrype, barbaarse geweld en wat basies kan sê wat hulle wil, aangesien hulle ultra-liberale skoothondjies in die media altyd slaggereed staan om enige iets wat hulle sê te probeer regverdig. Oor hierdie klomp kan ’n mens verder nie veel sê nie, want hulle is so oppervlakkig, oningelig en sommer net onnosel dat jy eintlik jou tyd mors om ’n ontleding van hulle en hulle idees te maak.
  
Die punt waarby ek wil uitkom is dat beide hierdie twee groepe – die Israelvisie en die radikale Afrika-Nasionaliste – pionne is van die Illuminati en die tragiese grap is dat nie een van die twee dit besef nie. Hulle word agter die skerms soos marionette gebruik met die doel om die uiteindelike sintese van die Hegeliaanse dialektiek te bewerkstellig. Wat hierdie sintese gaan wees, weet ’n mens nie, maar ek vermoed dat dit ’n toestand gaan wees waarin albei groepe mekaar oor en weer uitmoor en gevolglik Suid-Afrika verder laat stagneer en sodoende gaan die realiteit van ’n tweede Zimbabwe net soveel duideliker manifesteer.


----------------------
(c) T. Fourie

No comments:

Post a Comment